Gewildste

~Niemandsland~

Hier sit ons nou! 8 Maande later en Corona hang steeds soos ‘n mis-kombers om ons. Onwelkom in ons “Kammakastigland” sit ons, koffers gepak, die weeskinders van Afrika.

‘n Twee en ‘n half jaar stryd; met drome sonder heinings en kniëe deurgeskaaf is ons toekoms nou vol gate want Corona het ons gevangenes gemaak in ons eie Lockdown. Werkloos en sonder heenkome met vlugkaartjies sonder vlugte… wag ons hier, in NIEMANDSLAND, want ons Droomland wag geduldig terwyl die Verloorland se bloed droog word op sy hande.

Ons gesin is al bykans 3 jaar besig met die Groot Trek Australië toe, drie uitmergelende, emosie belaaide jare… Dink weer voor jy vir iemand sou sê “Dìs lekker, julle gaan land-uit”; is dit regtig so lekker soos almal dink?

NEE! Ons moet ons bekende Afrika-reënboog verruil vir die onbekende! Ons moet weggooi wat ons Vaders ge-erwe het sodat dit net as herhindering in ons harte sal oorlewe, net vir ‘n kans om vir ons kinders ‘n toekoms van vryheid kan koop (die slawe van Afrika). Dis mos hoe ons gesien word: die Land-verraaiers, die Rugstekers, die “Joiners”… Nee, my vriend hierdie oorlog het ons met bloed, sweet en baie trane tot hier geveg, maar hierdie land het hom droog gebloei en eintlik is almal reeds weeskinders van Afrika, hulle besef dit nog nie, want ons almal hier se toekoms is vol bitter en teleurstelling.

In jou Afrikanerhart weet jy dat Afrika nie sommer net van jou “afgestof” kan word nie, nee hierdie land is jou huis en ‘n deel van jou sal altyd bly! So nee, dit is nie “lekker” om te immigreer nie, maar dit is moontlik. Dit is moontlik om jou koffers te pak en (met ‘n knop in jou keel) vir die bekende totsiens te wuif, want miskien, net miskien sal die toekoms (of 2021) wel vir jou iets goeds inhou.

~Moerby energiestafies~

Hierdie resep was ‘n moerby van alles wat in die kas was, dit was letterlik net ingegooi en gekombineer met ‘n hele paar ander resepte.  (Genoeg vir 2 bakplate)

Bestanddele:

1 ½ kop klapper

2 kop hawermout

1 ½ kop gemengde sade

1 ½ kop semels

1 kop koekmeel

2 kop pofrys

5ml sout

1 kop suiker

10ml koeksoda

125ml grondboontjie botter

125ml botter of margarien

250g Dadels (ontpit en klein gesny)

60ml goue stroop

2 eiers

Metode:

Roer al die bestandele in ‘n groot mengbak, druk in bakplate en bak vir 20min teen 180 grade C.

~Veldbrand~

Min mense het al ‘n veldbrand ervaar soos ‘n boer… die intense warm vuur wat alles voor hom verorber, NIKS wat oorbly nie, alles weg, in oomblikke in die niet verdwyn en al wat oorbly is die brandende pyn van hartseer en verdriet. 

Net soos die boer het elkeen sy eie veldbrand wat hy probeer blus, maar wat as die brand nie geblus kan word nie en self moet uitbrand?  (Niemand is voorbereid nie, niemand het voorbrande gemaak nie.) Dis dan wat jy op jou knieë neerval en daar bly en besef dis ‘n tyd om te glo!

Ons sien vandag die roet en puin en verstik in die rook van ons eie veldbrand…  Die maatskappy wat ons betaal het om ons “container” met huisraad oor te stuur Australië toe, is gister gelikwideer.  Net so, sonder waarskuwing, derduisende rande se spaargeld, net weg!  Terwyl die skok jou toevou en energieloos laat, besef jy dat die maatskappy heel moontlik boereverneukers was, want jy is nie alleen nie (daar is bykans ‘n 100 ander gesinne).  

Terwyl jy in die stilte vir die dag wag weet jy dat die bietjie antieke sentimentele meubels wat jy nog het, eersdaags nie saam gaan oor die see nie en die vuur waai deur jou hart en dit breek.  Dit breek jou hart om na elke meubelstuk te kyk en te dink, hier is oorlede ouma en oupa se dit, oorlede pa se dat, en jy sien MENSE, nie meubels nie.  En jy huil!

Huil is die taal wat jou lyf praat wanneer daar nie woorde is om die pyn te beskryf nie… en jy wonder of the boere ook middernagtelik ween oor die veldbrand.

Daar’s min wat sal verstaan hoe ‘n sentimentele hart werk, maar jy weet jy moet vergewe om in vrede te kan lewe sodat jy ook sterker kan opstaan.  Jy weet dat hierdie ‘n merk in jou hart gaan los, maar iewers uit die niet kom daar ‘n Bybelversie op…  Ps 126: 5 -6.  “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.  Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.” 

Ons kyk terug na die swart massa wat die vuur agtergelaat het en besef dat hieruit sal daar ook nuwe lewe spruit.

~Skoonma se Gemengde Groente~

Resep

Hierdie is ‘n lekker vinnige resep veral as jy moeg is vir die eentonige smaak van gestoomde groente. Ek gebruik altyd “Country Crop/mix” (boontjies, wortels, blomkool & broccoli.)

Bestanddele: Bevrore Country mix / crop, sout & peper na smaak, slaaisous van jou keuse.

Metode: Plaas bevrore Country Crop in ‘n mikrogolf-vriendelike glasbak. Strooi sout & peper na smaak en bedek met kleefplastiek. Steek so paar gaatjies in die kleefplastiek met ‘n vurk. Plaas in mikrogolf op hoog vir 6 – 8 minute (afhangende van hoe krakerig jy van jou groente hou). Verwyder van mikrogolf, haal die plastiek af en gooi genoeg slaaisous (Honey & Mustard is altyd ‘n wenner) oor en bedien.

~Naaldwerk~

Wanneer iemand besluit om te immigreer en dalk ‘n paar stukkies meublement saam te trek is dit omtrent ‘n storie! Elke meubelstuk moet deeglik skoongemaak en geseël word (verf of vernis) omdat dit die reëls is en omdat dit in ‘n hittige “container” op see gaan wees vir 2 of 3 maande…

Dink jou in, alles is geskuur, geskaaf en blinkskoon… weggepak en toegedraai… buite jou bereik, want o, nee jy wil nie weer skuur en skaaf en skoonmaak nie…

Gelukkig het ek nog my naaldwerk masjiene en dìt is maar waarmee ek myself besig hou.

Loer na ‘n paar projekte wat ek al aangepak het met die Singers. (Buiten die klerasies wat ek probeer bou het vir die gesin.)

Daar is soveel genot om iets te skep!

~Barberton natuur reservaat~

Ons moes noodgedwonge, midde in Vlak 3 van die Corona tydperk na vriende se kothuis op die plaas verhuis omdat omstandighede toe nie vir ons ingehou het wat ons gehoop het nie. Gelukkig weet ons dat hierdie net tydelik is terwyl ons wag vir die formaliteite van immigrasie om ‘n werklikheid te word. Maar omdat ons gewoond is aan spasie, en gevoel het die 4 mure druk ons in die klein kothuis, het ons vinnig die piekniek mandjie en braaitang gegryp en die pad berg-af gevat. Weereens besef jy dat die Laeveld geheime wegsteek, want berg-af met die Barberton pas is dit Afrika se praal en prag wat jou begroet. Doen jouself ‘n guns en besoek gerus Barberton se natuur reservaat, jy kan na hartelus met jou 4×4 daar baljaar, bring sommer handdoeke vir die kinders want die “Barberton see” is ‘n lekker speel plek in die somer. Daar is ook braai geriewe en netjiese skoon ablusie fasiliteite. Jy kan jouself heeldag besig hou met die skoonheid van die natuur en soos ons net ‘n oomblik wegbreek van realiteit.
Design a site like this with WordPress.com
Spring weg